19/01/2014
Die Desember/Januarie uitreike is so pas verby en die Here het weereens ver bo wat ons bid of vra gegee. Ons het met die samewerking van 31 uitreikspanne landwyd daarin geslaag om 3,725 CD-uitreikpakkette en 74,500 Christelike traktaatjies landwyd te versprei. Soms lyk dit asof al hierdie uitreike geen verskil maak aan roekelose, nalatige en aggresiewe voertuig bestuurders nie. Ek het Donderdagoggend met ons provinsiale verkeershoof 'n vergadering gehad om ons plan van aksie vir Paasnaweek 2014 te bespreek. Ons het gepraat oor die geweldige hoe sterftesyfer op ons land se paaie en ek het vir hom genoem dat dit ons laat wonder of ons uitreikaksies enigsins 'n verskil maak. Sy reaksie was onmiddellik dat as ons dit nie doen nie, dan kan dit seker nog erger gaan. Dit beteken dat ons uitreikaksies iewers in iemand se lewe tog 'n verskil maak, al weet ons nie altyd daarvan nie. Ons moet net voortgaan om die saad te saai en weet dat dit God is wat dit laat groei.
Bid asseblief vir ons vir wysheid en krag vir al die voorbereidings met die oog op Paasnaweek 2014 se uitreikaksies.